Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:12-25 Die Boodskap (DB)

12. as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.”

13. Op ’n keer het mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het hulle egter gekeer.

14. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik dat sy dissipels moet ophou: “Moet nooit kindertjies keer om na My toe te kom nie. Hulle is altyd welkom by My.

15. “Die nuwe wêreld van God is juis bedoel vir mense soos hulle. Hiervan kan julle maar seker wees: wie nie God se leiding en heerskappy aanvaar soos ’n klein kind sy pa se leiding aanvaar nie, sal nie ’n plek in God se nuwe wêreld hê nie.”

16. Toe het Hy sy arms oopgehou sodat die kindertjies nader kon kom. Hy het hulle vasgehou, sy hand op die koppies gesit en hulle geseën.

17. Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?”

18. Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed.

19. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.”

20. “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus.

21. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.”

22. Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg.

23. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.”

24. Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie.

25. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.”

Lees volledige hoofstuk Markus 10