Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel.

2. Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?”

3. “Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe.

4. “Wel,” sê hulle, “Moses het gesê ’n man kan ’n brief skryf waarin hy sê dat hy van sy vrou wil skei en dan is alles verby. Sy moet dan uit die huis uit.”

5. “Dit was omdat julle so hardkoppig en vol sonde is dat Moses dit gesê het,” antwoord Jesus toe.

6. “Reg van die begin af het God mans en vroue gemaak.

7. As ’n man en ’n vrou trou, gaan hy van sy ouers af weg en bly saam met sy vrou.

8. Hulle twee is dan soos een mens.

9. As God twee mense so aan mekaar vasgemaak het, mag niemand die band tussen hulle losmaak nie.”

10. Toe hulle later weer saam by die huis was, het sy getrouste volgelinge Jesus gevra wat Hy daarmee bedoel het.

11. Jesus verduidelik toe: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, is hy in God se oë ontrou aan sy eerste vrou. Net so,

12. as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.”

13. Op ’n keer het mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het hulle egter gekeer.

14. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik dat sy dissipels moet ophou: “Moet nooit kindertjies keer om na My toe te kom nie. Hulle is altyd welkom by My.

Lees volledige hoofstuk Markus 10