Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:22-37 Die Boodskap (DB)

22. “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”

23. Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap.

24. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe.

25. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd.

26. “Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie.

27. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.”

28. Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid.

29. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander. Jesus se klere het ook helderblink begin skitter.

30. Twee mans het skielik aan Hom verskyn. Dit was Moses en Elia.

31. Hulle was self met glans omring. Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag.

32. Intussen was Petrus en die ander twee dissipels vas aan die slaap. Toe hulle wakker word, sien hulle dat Jesus omring is met ’n hemelse heerlikheid en ook hoe Moses en Elia met Hom praat. Terwyl die dissipels nog oorbluf na die toneel voor hulle staan en kyk, het Moses en Elia gereedgemaak om te vertrek.

33. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis goed dat ons ook hier is. Nou kan ons gou drie tente maak, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Die arme Petrus het natuurlik nie ’n benul gehad wat hy sê nie.

34. Petrus se woorde was skaars koud, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle almal. Die dissipels het baie bang geword toe hulle sien hoe die twee mans in die wolk instap.

35. Skielik praat ’n stem uit die wolk. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het om my werk hier op die aarde te kom doen. Luister na Hom.”

36. Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie.

37. Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9