Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:12-28 Die Boodskap (DB)

12. Later die middag toe dit begin donker word, het die dissipels Jesus eenkant toe geroep en vir Hom gesê: “U moet asseblief nou klaar praat. Stuur die mense weg om vir hulle iewers in die omgewing ’n slaapplek en iets te ete te kry. Ons is hier tussen niks en nêrens. Hier is nie kos of blyplek vir hulle nie.”

13. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”“Wat? Dis onmoontlik,” het hulle almal tegelyk geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse vir ons en vir U saamgebring. Dis al! Ons sal iewers moet gaan kos koop vir hierdie groot skare.” Net die mans alleen in die skare was by die 5 000.

14. “Laat die mense gou in groepe van 50 sit,” het Jesus gesê.

15. Die dissipels het dadelik aan die werk gespring en die skare in groepe laat sit.

16. Toe almal ’n sitplek gehad het, vat Jesus die vyf brode en die twee visse, sê vir God daarvoor dankie, spreek sy seën daaroor uit en begin dit in kleiner stukkies breek. Hy het dit aan die dissipels gegee om aan die skare uit te deel.

17. Almal het genoeg te ete gekry. Op die ou end was daar te veel kos. Na die tyd is twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het.

18. Daarna het Jesus alleen gaan bid. Net die twaalf dissipels was by Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wie sê hulle is Ek?”

19. “Johannes die Doper,” het hulle dadelik geantwoord. “Of Elia. Ja, selfs een van die profete uit die ou dae wat weer lewendig geword het.”

20. “En julle?” vra Jesus vir hulle. “Wie sê julle is Ek?”Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Een wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Messias.”

21. “Julle mag dit vir niemand gaan vertel nie,” het Jesus gesê.

22. “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”

23. Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap.

24. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe.

25. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd.

26. “Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie.

27. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.”

28. Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9