Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7:7-20-21 Die Boodskap (DB)

7. Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond.

8. “U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!”

9. Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het.

10. Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe.

11. Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by.

12. Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood.

13. Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.”

14. Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!”

15. Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat.

16. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep.

17. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea.

18. Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late.

19. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.”

20-21. Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien.

Lees volledige hoofstuk Lukas 7