Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai).

17. Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom.

18. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry.

19. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het.

20. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld.

21. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld.“Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier.

22. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees.

23. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6