Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het Jesus by die See van Galilea gepreek. Daar was so ’n groot klomp mense dat hulle mekaar omtrent vertrap het om Hom behoorlik te kon sien. Jesus maak toe ’n plan.

2. Hy het gesien dat twee vissersbote teen die kant van die see vasgemeer lê. Die vissermanne het pas uit hulle bote geklim en was besig om hulle nette skoon te maak.

3. Jesus gaan klim toe in Simon se boot en vra hom om ’n entjie van die kant af weg te vaar. Hy het in die boot gaan sit en van daar af met die skare gepraat.

4. Later, toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vat die boot dieper in die see in en gooi dan weer julle visnette in.”

5. Simon antwoord toe: “Ons het die hele nag op die see deurgebring en ons het net mooi niks gevang nie. Maar omdat U so sê, sal ek my visnette weer ’n keer laat sak!”

6. So gesê, so gedaan. Skaars het Simon sy nette ingegooi of hulle was propvol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur.

7. “Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 5