Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:20-27 Die Boodskap (DB)

20. Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was.

21. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.”

22. Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?”

23. Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen.

24. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie.

25. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger.

26. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur.

27. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 4