Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:13-25 Die Boodskap (DB)

13. Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos.

14. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is.

15. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad.

16. Op ’n dag het Jesus na Nasaret toe gegaan waar Hy grootgeword het. Oudergewoonte het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan.

17. Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees:

18. “Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal.

19. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’”

20. Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was.

21. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.”

22. Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?”

23. Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen.

24. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie.

25. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4