Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:7-26 Die Boodskap (DB)

7. Toe almal ja sê, het Pilatus besluit om Jesus na Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, te stuur, want hy was ook in daardie tyd in Jerusalem.

8. Toe Jesus by Herodes aankom, was hy bly. “Aha! Uiteindelik kry ek die man te sien van wie ek so baie gehoor het,” het Herodes gesê. “Nou toe, doen gou vir my die een of ander groot teken.”

9. Jesus het egter net daar gestaan sonder om enigiets te sê. Herodes het Hom die een ding na die ander gevra, maar Hy het niks geantwoord nie.

10. Die godsdienstige leiers en die kenners van die Skrif wat ook daar was, het hierdie kans benut om Jesus van alles wat sleg is te beskuldig.

11. Later was Herodes baie vies dat Jesus hom ignoreer. Hy en sy soldate het Hom sleggesê en rondgestamp. Toe het hulle vir Jesus deftige klere aangetrek. “Jy wil mos so graag ’n koning wees. Gaan wys nou vir Pilatus hoe lyk jy met jou koningsklere,” het Herodes spottend vir Jesus gesê en Hom teruggestuur.

12. Terloops, op daardie dag het Pilatus en Herodes die strydbyl begrawe en goeie vriende geword.

13. Kort daarna het Pilatus al die belangrikste godsdienstige leiers van die Jode na hom toe ontbied. Hy sê toe vir hulle:

14. “Kyk, julle het vir my kom sê dat hierdie Jesus ’n moeilikheidmaker is wat julle mense opstook. Ek het mooi na al die feite gekyk en agtergekom dat dit nie waar is nie. Hierdie man is onskuldig.

15. As julle my nie wil glo nie, gaan vra dan vir Herodes. Hy het ook vir Jesus ondervra. Herodes het my laat weet dat hierdie man niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie.

16. So, kom ek sê vir julle wat ek gaan doen: ek sal dat die soldate hom ’n ordentlike drag slae gee. Maar daarna laat ek hom los.”

17. Pilatus se voorstel het glad nie byval gevind by die skare nie.

18. Hulle het hard begin skree: “Weg met daardie man! Laat Barabbas los!”

19. Barabbas was in die tronk omdat hy vroeër in Jerusalem aan ’n opstand teen die Romeine deelgeneem het. Boonop was hy ook ’n moordenaar.

20. Pilatus wou dit nie doen nie. Daarom het hy weer probeer om die skare te oortuig dat Jesus losgelaat moes word.

21. Maar hulle het hom doodgeskree: “Kruis toe met Jesus! Kruis toe met Jesus!”

22. Toe maak Pilatus die skare ’n derde keer stil en vra vir hulle: “Sê my, wat het hierdie man gedoen wat so verskriklik is dat julle hom wil dood hê? Ek sal dat my soldate hom ’n goeie drag slae gee. Daarna sal ek hom loslaat.”

23. Maar die skare wou nie kopgee nie. Hulle het net al harder geskree dat Jesus gekruisig moes word.

24. Uiteindelik het Pilatus ingegee: “Nou goed dan, laat hom maar gekruisig word!”

25. Pilatus het toe vir Barabbas losgelaat wat in die tronk was omdat hy ’n terroris en ’n moordenaar was. En vir Jesus het hy in die hande van die soldate en die mense oorgegee. Nou het die bloeddorstige skare eindelik hulle sin gekry.

26. Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 23