Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:48-56 Die Boodskap (DB)

48. Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer.

49. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het.

50. Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word.

51-52. Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het.

53. Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was.

54. Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het.

55. Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou.

56. Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23