Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.”

9. “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.”

10. “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra.

11. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’

12. “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.”

13. Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei.

14. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar.

15. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin.

16. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.”

17. Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit.

18. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.”

19. Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.”

20. Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan.

21. “Maar Ek het ook slegte nuus. Een van julle wat hier saam met My aan die tafel sit, gaan My nog in die rug steek.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22