Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:14-28 Die Boodskap (DB)

14. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar.

15. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin.

16. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.”

17. Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit.

18. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.”

19. Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.”

20. Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan.

21. “Maar Ek het ook slegte nuus. Een van julle wat hier saam met My aan die tafel sit, gaan My nog in die rug steek.

22. God het besluit dat Ek, die Seun van die mens, moet kom ly. Maar daar wag groot probleme op dié een wat gaan maak dat Ek in die hande van my vyande beland.”

23. Die dissipels was baie geskok daaroor. Hulle het onderlangs vir mekaar gevra: “Wie van ons sal so ’n verskriklike ding aanvang?”

24. Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die dissipels aan die stry geraak oor wie van hulle die belangrikste is.

25. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is.

26. Maar julle moenie soos hulle wees nie.

27. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan.

28. “Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22