Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:26-43 Die Boodskap (DB)

26. Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het.

27. Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie.

28. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos.

29. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê.

30. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is.

31. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie.

32. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood.

33. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.”

34. Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie.

35. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie.

36. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee.

37. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie.

38. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.”

39. ’n Paar van die skrifkenners wat ook na Jesus geluister het, was baie beïndruk met wat Hy gesê het: “Mooi so, Leermeester. U het goed geantwoord.

40. Kyk, daardie klomp Sadduseërs is skoon stil.”

41. Toe sê Jesus vir die godsdienstige leiers wat gedurig net regsit om Hom te probeer uitvang: “Ek het nou ’n vraag vir julle. Hoekom sê almal die Messias is die seun van Dawid?

42. Dawid self noem Hom dan in een van sy psalms ‘my Here’. Julle ken mos Dawid se bekende woorde:‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit hier op die spesiale ereplek langs My

43. totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’“Verklaar dit dan nou vir My:

Lees volledige hoofstuk Lukas 20