Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:17-24 Die Boodskap (DB)

17. Jesus het hulle egter reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Julle is mos sulke danige kenners van die Bybel. Wel, sê ’n bietjie vir My wat die volgende teks beteken:‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik nie en sommer eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.’

18. “Oppas! Elkeen wat op hierdie ‘klip’ val, gaan bitter seerkry. Maar elkeen op wie hierdie ‘klip’ beland, gaan morsdood wees. Van hulle gaan daar net mooi niks oorbly nie.”Die Joodse godsdienstige leiers het die skimp gevang. Hulle het besef dat Jesus hierdie teks op Homself toegepas het en dat hulle die mense is wat Hom verwerp. Hulle was woedend daaroor. Hulle wou Hom sommer daar en dan in die tronk stop. Maar die gewone mense was baie beïndruk met Jesus. Daarom kon die leiers in daardie stadium niks aan Hom doen nie.

19. Die godsdienstige leiers wou hê dat Jesus iets moes sê wat Hom in die moeilikheid sou bring.

20. Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê.

21. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie.

22. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?”

23. Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee.

24. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?”“Die keiser s’n,” antwoord hulle.

Lees volledige hoofstuk Lukas 20