Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Jesus het vir sy volgelinge die volgende verhaal vertel om hulle te leer om aan te hou bid:

2. “Eendag was daar ’n baie kwaai regsgeleerde. Hy was vir g’n mens in sy stad bang nie. Ook nie eens vir God nie.

3. In dieselfde stad het daar ook ’n vrou gebly wie se man dood was. Sy was betrokke in ’n regsgeding met iemand anders. Sy het kort-kort na die hardkoppige regsgeleerde toe gekom en hom gesmeek om haar saak vir haar te hanteer.

4. Maar hy het botweg geweier. Op ’n dag het hy egter vir homself gesê: ‘Ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek’s vir niemand bang nie, nie eens vir God nie.

5. En tog dink ek ek gaan daardie weduwee help. Wie weet, netnou maak sy my naam sleg, of dalk kom gee sy my sommer nog voor almal ’n oorveeg.’”

6. Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help?

7. Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie?

8. Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid. “Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan.”

9. Baie “godsdienstige” mense het gedink hulle saak met God is in orde omdat hulle allerhande godsdienstige wette streng gehoorsaam. Hierdie mense het op almal neergesien wat nie al dié wette gehou het nie. Jesus het net mooi niks van hierdie godsdienstige snobisme gehou nie. Hy het toe vir die mense die volgende verhaal vertel:

10. “Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.)

11. “Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 18