Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:3-11 Die Boodskap (DB)

3. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.”

4. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al.

5. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees!

6. “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

7. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.

8. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is.

9. Maar aan die ander kant, as julle tussen ander mense maak of julle My nie ken nie, sal Ek presies dieselfde met julle doen. Dan sal Ek ook daar voor die engele maak of Ek julle nie ken nie.

10. “Weet julle, daar is niks wat mense aan My kan doen of oor My kan sê wat so sleg is dat God hulle dit nie kan vergewe nie. Maar daar is wel een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense die rug draai vir die Heilige Gees se werk. Wanneer die Gees aan die werk is en mense sê dis die duiwel wat aan die werk is, is hulle in baie groot moeilikheid by God. Hy sal hulle dit nooit vergewe nie.

11. “Wanneer die mense julle baie sleg behandel omdat julle my volgelinge is, moet julle nie moed opgee nie. As hulle julle voor die hof sleep of voor allerhande hooggeplaastes, hoef julle julle nie te bekommer hoe julle julle gaan verdedig nie. Los maar die advokate en die prokureurs uit. Die Heilige Gees sal persoonlik daar by julle wees om julle te verdedig.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12