Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:6-20 Die Boodskap (DB)

6. As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie.

7. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie.

8. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek.

9. “Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’

10. “Wanneer die mense van ’n dorp julle die rug toekeer, gee dan dadelik daar pad. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit.

11. Sê ook vir almal in die dorp dat hulle die kans van ’n leeftyd om deel van God se nuwe wêreld te word deur hulle vingers laat glip het. Hulle gaan nog baie spyt wees daaroor.

12. Dit gaan vir hulle baie erger wees wanneer hulle eendag voor God moet gaan staan as wat dit sal wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat so berug was vir al hulle sondes.”

13. Toe het Jesus ’n skerp uitspraak gemaak oor ’n paar van die dorpe in Galilea waar Hy gepreek het: “Gorasin en Betsaida, vir julle twee dorpe wag daar net probleme. Weet julle, as al daardie slegte mense van Tirus en Sidon die wonderwerke kon sien wat julle gesien het, was hulle almal binne sekondes op hulle knieë voor My. Met harte vol berou sou hulle dan vergifnis kom vra het.

14. Maar toemaar, God se finale oordeel is op pad. En dan sal Tirus en Sidon lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref.

15. “En julle spul daar in Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle ’n spesiale plek in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering. Julle plekke in die doderyk is al klaar bespreek.

16. “Ek sê weer: as mense julle met oop arms ontvang en julle vriende wil wees, is hulle my vriende ook. Maar as hulle nie na julle luister nie en die rug vir julle draai, draai hulle ook die rug vir My. En as hulle My verwerp, doen hulle presies dieselfde met God, want Hy het My na julle toe gestuur.”

17. Later het die 72 volgelinge van Jesus teruggekom van die plekke af waarheen Hy hulle gestuur het. Hulle was baie opgewonde. Hulle sê toe vir Jesus: “Weet U, Here, tot die duiwels luister na ons wanneer ons hulle in u Naam uit mense uitdryf.”

18. “Maar natuurlik,” het Jesus geantwoord. “Ek is mos baie sterker as hulle. Ek het immers self gesien hoe die duiwel uit die hemel gegooi is. So vinnig soos ’n weerligstraal is hy daar uit God se terrein verwyder.

19. “Maar Ek het nog goeie nuus vir julle: Ek gee aan julle mag oor die duiwel en oor sy handlangers se terrein waar daar baie dinge is wat julle skade kan aandoen. Julle het nou mag oor al sy bose magte. Sy slange en skerpioene sal julle geen skade aandoen nie. Omdat julle in My glo, is julle nou sterker as al my vyande.

20. Maar wag, julle moenie feesvier omdat daardie bose magte voor julle die knie buig nie. Nee, vier liewer fees omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld is. Julle name is klaar op die lys van die gaste wat na sy hemelse feesmaal toe genooi is.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 10