Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 4:12-18 Die Boodskap (DB)

12. En dan is daar natuurlik Epafras wat julle so goed ken. Hy het my gevra om julle spesiaal namens hom te groet. Hy gee al sy tyd en energie vir Christus Jesus. As ons maar hoor, bid hy baie ernstig vir julle, veral vir julle geestelike volwassenheid. Hy vra God om julle te help om nie ’n duim van die koers af te wyk nie. Hy bid dat julle lewe al hoe meer sal word soos God dit wil hê.

13. Ek kan julle verseker, hy bid ernstig vir julle in Kolosse, asook vir die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis.

14. Geliefde dokter Lukas en Demas stuur ook groete.

15. Sê asseblief namens my groete vir die Christene in Laodisea. Moet ook nie vergeet van Nimfa en die gemeente wat in haar huis kerk hou nie.

16. Lees asseblief eers hierdie brief daar in julle gemeente. Stuur dit daarna na Laodisea toe vir hulle om te lees. Ek het ook ’n brief vir die gemeente in Laodisea gestuur en gevra dat hulle dit weer vir julle stuur.

17. En, o ja, sê asseblief vir Argippus dat hy moet volhou met die taak wat die Here vir hom gegee het. Hy moet sorg dat hy dit klaarmaak.

18. Met my eie handskrif wil ek, Paulus, julle graag groet. Moet my asseblief nie vergeet waar ek hier in die tronk sit nie. Dink aan my. Mag God vir julle baie goed wees, nog meer as wat julle verdien.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 4