Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 9:29-38 Die Boodskap (DB)

29. En Moses staan ten minste aan God se kant, want God het met hom gepraat. Daarvan is ons seker! Maar hierdie man, Jesus, van hom weet ons niks. Ons weet nie eens waar hy uitgekruip het nie.”

30. Die man sê toe: “Dit is darem baie snaaks. Julle sê julle weet kamma nie waar hy uitgekruip het nie. Intussen was dit juis hy wat my weer laat sien het.

31. Ons almal weet tog dat God nie na mense luister wat niks met Hom te doen wil hê nie. God verhoor slegs die gebede van iemand wat Hom dien en so optree dat God met hom tevrede voel.

32. Boonop het nie een van ons nog ooit gehoor dat iemand ’n man wat blind gebore is, weer kon laat sien nie.

33. Jesus sou mos nie een van dié dinge kon doen as hy nie aan God se kant gestaan het nie, nie waar nie?”

34. Die Joodse leiers was woedend. “Jou hele lewe is net een groot stuk sonde. Van God en sy dinge weet jy net mooi niks! Nou wil jy jou lyf staan en godsdiensonderwyser hou by ons. Watter vermetelheid!” Hulle het hom verbied om weer sy voete by enige van hulle byeenkomste te sit. Hy was nie meer by hulle as Jode welkom nie.

35. Die nuus dat die Joodse leiers die man weggejaag het, het by Jesus uitgekom. Jesus het hom toe gaan soek en toe Hy hom kry, vra Jesus hom reguit: “Wil jy graag ’n volgeling en vriend van die Seun van God wees?”

36. Dadelik antwoord die man: “Wys asseblief vir my waar Hy is. Ek wil graag sy volgeling wees.”

37. “Hy staan hier reg voor jou. Jy is besig om met Hom te gesels,” sê Jesus.

38. “Here, ek wil graag u volgeling wees, asseblief,” sê die man. Hy sak toe op sy knieë neer en maak Jesus se Naam groot.

Lees volledige hoofstuk Johannes 9