Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:38-49 Die Boodskap (DB)

38. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.”

39. (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.)

40. Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!”

41. “Julle mag so dink, maar ons dink Hy is die Redder self,” het ander hulle opinie gelug. Daar was ook ’n paar beterweters: “Ja, maar Hy kom uit Galilea. Ons almal weet tog dat die Redder nie uit Galilea sal kom nie.

42. Die Bybel self sê vir ons dat die Redder ’n agteragterkleinseun van Dawid sal wees. Dawid kom mos uit Betlehem en dit is baie ver van Galilea af! Hoe verklaar julle dit?”

43. So het die mense met mekaar gestaan en stry.

44. Daar was ook weer sterk sprake dat party Jesus in die tronk wou gooi, maar niemand het die moed gehad om dit regtig te doen nie.

45. Die polisie het Jesus net daar gelos. Hulle gaan rapporteer toe by die Fariseërs en die priesters, wat dadelik wou weet: “Waar’s hy?”

46. Die polisie sê toe: “Het julle hom miskien al gehoor praat? Ons het nog nooit so iets gehoor nie; dit was uit ’n ander wêreld!”

47. Die Fariseërs vlieg hulle toe in: “Is julle ook nou heeltemal deurmekaar? Weet julle ook nou nie meer wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie? Maak oop julle oë!

48. Sien julle miskien een enkele Joodse leier of Fariseër wat dink hierdie man praat die waarheid?

49. Nou toe! Al mense wat Hy kan beïndruk, is net die dom klomp daar buite. G’n wonder nie, want hulle weet niks van God se wil af nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7