Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:1-13 Die Boodskap (DB)

1. ’n Rukkie later is Jesus weer Jerusalem toe vir nog ’n Joodse fees.

2-3. Naby die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad wat in Hebreeus Betesda genoem is. Dit was die bymekaarkomplek vir mense met die een of ander siekte, soos blindes, kreupeles en mense met ander siektes. By die bad was daar pilare met ’n dak op. Die pilare het vyf gange gevorm. Daar het die siekes rondgesit of -gelê.

5. Onder hulle was daar ’n man wat al 38 jaar lank siek was.

6. Jesus het hom daar sien lê. Hy het geweet dat die man al lank siek was en vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”

7. “Meneer,” antwoord die siek man, “ek sou graag wou, maar ek het niemand om my in die bad te sit as die water begin roer nie. Terwyl ek my bes probeer om eerste daar te kom, gaan iemand anders voor my in.”

8. “Staan op!” sê Jesus. “Vat jou slaapmat en stap hier weg.”

9. Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat opgetel en weggestap. Dit het op die sabbat gebeur.

10. “Dit is die sabbat vandag,” gaan die Jode die man teë. “Jy mag mos nie vandag jou slaapmat dra nie.”

11. “Dis nie ek nie! Dis die man wat my gesond gemaak het. Dit is Hy wat vir my gesê het: ‘Tel jou goed op en stap hier weg,’” maak die man verskoning.

12. Hulle vra hom toe: “Wie het dit gesê?”

13. Die man was nie seker nie, want Jesus was nie meer daar nie. Hy is stilletjies daar weg omdat so baie mense daar saamgedrom het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5