Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy pluk dit toe uit en kap na een van die mense wat vir die hoëpriester gewerk het. Sy naam was Malgus. Met dié tref hy Malgus teen die regteroor en sny dit morsaf.

11. Jesus keer Petrus toe dadelik. “Nee, Petrus, bêre jou swaard! My Vader wil hê Ek moet hierdie pad loop. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees en dit nie loop nie?”

12. Die offisier, met sy soldate en die Joodse polisie, het Jesus gegryp en Hom geboei.

13. Hulle het Hom toe eers na Annas toe gevat. Hy was Kajafas se skoonpa. Kajafas was daardie jaar die hoëpriester.

14. Hy was nie net die belangrikste priester nie, maar ook die voorsitter van die belangrikste Joodse godsdienstige raad. Dit was ook hy wat die Jode oortuig het dat dit beter sou wees dat Jesus doodgemaak word as wat die hele volk by die Romeine in die moeilikheid kom.

15. Simon Petrus en nog een van Jesus se volgelinge het ongemerk op ’n afstand agter Jesus aangeloop. Petrus se vriend het Kajafas geken. Daarom kon hy in die binneplein van Kajafas se huis ingaan, want

16. hulle het Jesus daarheen gevat. Petrus het buite by die deur gestaan en wag. Petrus se vriend kom praat toe met die hekwag en vat Petrus saam in.

17. Die hekwag was ’n vrou. Toe Petrus by haar verbyloop, vra sy skielik: “Jong, is jy nie een van die volgelinge van hierdie gevangene hier binne nie?”“Jy verbeel jou dit,” sê Petrus.

18. In die binneplein het hulle ’n lekker vuur gemaak, want dit was koud. Die werkers en polisie het almal om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook tussen hulle gaan staan vir so ’n bietjie hitte.

19. Intussen het die hoëpriester Jesus onder kruisverhoor begin neem. Hy het Hom uitgevra oor sy volgelinge en oor wat Hy gepreek het.

20. Jesus het so op al sy vrae gereageer: “Ek het oral openlik gepraat. Die tempel en bymekaarkomplekke van die Jode was my kansel. Dáár het Ek gepreek. Ek het nie iewers in die geheim opruiende toesprake gehou nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18