Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:10-19 Die Boodskap (DB)

10. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie.

11. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop.

12. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie.

13. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het.

14. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is.

15. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het.

16. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.”

17. Sy dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Waarvan praat Hy? Wat is al hierdie praatjies van nou sien en dan weer nie sien nie, of dat Hy na sy Vader toe gaan?

18. En wat bedoel Hy met die ‘tyd wat nader kom’? Ons wens ons het geweet, want ons verstaan nie wat hier aangaan nie.”

19. Jesus het agtergekom dat hulle brand om te hoor wat Hy hieroor te sê het. “Wonder julle oor wat Ek vir julle gesê het?

Lees volledige hoofstuk Johannes 16