Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:4-17 Die Boodskap (DB)

4. Jesus staan toe op en bind ’n handdoek om sy middel vas.

5. Hy maak toe ’n bak vol water en begin sy volgelinge se voete een vir een was. Met die handdoek om sy lyf droog Hy hulle voete af.

6. Hy kom toe by Simon Petrus. Voor Hy nog kon begin, val Petrus weg: “Here, wil U nou regtig my voete staan en was?”

7. “Petrus, dit mag nou vir jou snaaks lyk dat Ek so iets wil doen,” sê Jesus, “maar gee ’n bietjie kans; al hierdie dinge sal wel later vir jou sin begin maak.”

8. “Moet asseblief nie aan my voete raak nie,” vra Petrus, “nie nou nie en ook nie later nie.”“Wel,” antwoord Jesus hom, “as Ek nie jou voete was nie, beteken dit dat jy nie een van ons is nie. Dan gaan jy ook nie kry wat Ek vir jou kan gee nie.”

9. “Here, as dit die geval is, moet dan asseblief nie by my voete stop nie. Was my hande; was my kop - sommer alles!”

10. Jesus sê toe: “Jy het mos vanoggend gebad. Dit is nou eers genoeg om net jou voete te was; dan is jy weer heeltemal skoon. Maar nie almal van julle sal skoon word nie, al was Ek almal se voete.”

11. Hierdie laaste sin was op Judas gemik. Jesus het mos geweet Judas gaan Hom verraai.

12. Jesus het voortgegaan en almal se voete gewas. Daarna gaan sit Hy weer op sy plek. “Maak dit sin wat Ek vir julle gedoen het? Wel, laat Ek dit so vir julle verduidelik. Hoe praat julle oor My?

13. Julle noem My mos ‘die Een wat alles vir ons leer’ of ‘ons Leier vir wie ons onvoorwaardelik volg’. Julle is natuurlik reg. Ek is al hierdie dinge.

14. Nou maar goed. As Ek, die Een wat julle leer en lei, julle voete was, wat sê dit vir julle? Net een ding: julle behoort mekaar se voete net so te was.

15. Ek het nou vir julle ’n goeie voorbeeld gegee: volg daardie voorbeeld. Doen aan mekaar wat Ek aan julle gedoen het.

16. Dit kan nie anders nie, want die werker skryf mos nie vir die baas voor wat om te doen nie. As jy iemand stuur, vertel die een wat gestuur word nie vir jou wat jy wil hê nie. Dit werk mos andersom!

17. Dit weet julle tog. As julle regtig gelukkig wil wees, moet julle doen wat Ek nou net vir julle gesê het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13