Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:25-38 Die Boodskap (DB)

25. Die dissipel leun toe oor: “Here, wie is dit?”

26. Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot.

27. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!”

28. Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen.

29. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê.

30. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker.

31. Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur. Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is.

32. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie.

33. My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min. Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie. Julle sal nie kan kom waar Ek gaan nie. Ek het dit mos al vir die Jode gesê.

34. Nou sê Ek dit vir julle ook.“Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van julle. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê.

35. “Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ‘praat’. Mense moet daarna kyk en sê: ‘Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’”

36. Iets het Simon Petrus nog gepla. “Here, waarheen gaan U?” vra hy. “Petrus, jy kan nie nou al saam met My kom nie, maar wel later,” troos Jesus hom.

37. Petrus was nie tevrede nie. “Here, hoekom kan ek nie nou al saamkom nie?” wou hy weet. “U weet U is vir my alles. Selfs al moet ek my lewe vir U gee, sal ek dit doen.”

38. “Wat, Petrus? Sê jy jy is bereid om jou lewe vir My te gee? Ek het vir jou ’n verrassing. Voor die haan môreoggend vroeg kraai, sal jy al drie maal vurig ontken het dat jy iets van My weet, wat nog te sê dat jy my vriend is.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 13