Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:11-23-24 Die Boodskap (DB)

11. Hierdie laaste sin was op Judas gemik. Jesus het mos geweet Judas gaan Hom verraai.

12. Jesus het voortgegaan en almal se voete gewas. Daarna gaan sit Hy weer op sy plek. “Maak dit sin wat Ek vir julle gedoen het? Wel, laat Ek dit so vir julle verduidelik. Hoe praat julle oor My?

13. Julle noem My mos ‘die Een wat alles vir ons leer’ of ‘ons Leier vir wie ons onvoorwaardelik volg’. Julle is natuurlik reg. Ek is al hierdie dinge.

14. Nou maar goed. As Ek, die Een wat julle leer en lei, julle voete was, wat sê dit vir julle? Net een ding: julle behoort mekaar se voete net so te was.

15. Ek het nou vir julle ’n goeie voorbeeld gegee: volg daardie voorbeeld. Doen aan mekaar wat Ek aan julle gedoen het.

16. Dit kan nie anders nie, want die werker skryf mos nie vir die baas voor wat om te doen nie. As jy iemand stuur, vertel die een wat gestuur word nie vir jou wat jy wil hê nie. Dit werk mos andersom!

17. Dit weet julle tog. As julle regtig gelukkig wil wees, moet julle doen wat Ek nou net vir julle gesê het.

18. Ek praat nie van julle almal nie. Ek ken julle goed, want Ek het julle as my vriende gekies. In die Skrif staan: ‘Die een wat saam met My geëet het, het my seer geskop.’ Julle sal dit sien waar word.

19. Ek sê dit nou al vir julle. Kyk maar net. Wanneer dit gebeur, sal julle nie onkant gevang word nie, want julle sal weet dat dit moet gebeur. Wanneer dit gebeur, sal julle net al hoe meer oortuig raak wie Ek regtig is.

20. “Dit moet julle altyd besef: sê nou Ek stuur iemand en mense ontvang hom met oop arms, is dit eintlik vir My wat hulle so ontvang. En as hulle My so met oop arms ontvang, ontvang hulle eintlik so vir God wat My gestuur het.”

21. Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.”

22. “Wie sou dit nou wees?” het sy volgelinge so stilletjies onder mekaar gevra.

23-24. Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 13