Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Soos my Vader My ken en Ek Hom ken, so ken Ek en elke gelowige mekaar. Omdat ons vir mekaar omgee, sal Ék liewer sterf as om toe te laat dat my volgelinge iets oorkom.

16. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder.

17. My Vader het My lief, en met goeie rede ook. Ek is uit vrye wil bereid om doodgemaak te word. Die doel daarmee is om te wys dat Ek self weer uit die dood kan opstaan.

18. Niemand sal My sommer kan kom doodmaak nie. Uit my eie sal Ek hulle toelaat om dit te doen. So sal Ek bewys hoe sterk Ek is. Ek kan, as Ek wil, sterf. En Ek kan, as Ek wil, ook weer lewendig word. My Vader het gesê dat Ek dit moet kom doen. Ek moet eers toelaat dat mense My doodmaak en dan moet Ek weer lewendig word.”

19. Hieroor het die Jode kwaai aan die stry gegaan.

20. “Hy het die spoor heeltemal byster geraak. Vir wat mors julle nog julle tyd om na hom te luister?” het party kopskuddend gesê.

21. “Nee, julle maak ’n groot fout,” kom dit weer van ’n ander. “Iemand wat die spoor byster geraak het, kan nie só praat nie. En buitendien, het julle al van ’n versteurde man gehoor wat iemand wat sy hele lewe blind was, kon laat sien? Toe, wat sê julle nou?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 10