Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 2:18-26 Die Boodskap (DB)

18. Iemand sou kon sê: “Jy het ’n geloofsverhouding met God, maar ek doen weer wat God vra.” Maar sê dit presies dieselfde? Dink daaroor na. Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan.

19. Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie - die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef.

20. Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie.

21. Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook.

22. By hom kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees.

23. Die Bybel sê mos: “Abraham het in God geglo. Juis daarom het God besluit dat Abraham se verhouding met Hom reg is.” Die bewys daarvan was toe Abraham vir Isak gaan offer het. Hy is van toe af ’n vriend van God genoem.

24. Julle sien dus hoe belangrik dit is om te doen wat God vra. As dit om die regte verhouding met Hom gaan, is dit nie genoeg om slegs te weet dat God daar is en Hom te aanvaar nie.

25. Dink nou maar aan Ragab. Sy was mos daardie straatvrou van Jerigo. Was dit nie juis haar optrede - toe sy die spioene van Israel versorg en in ’n veilige rigting weggestuur het - wat gewys het dat haar verhouding met die Here reg is nie?

26. ’n Liggaam sonder lewe daarin is dood. Geloof, sonder dat die persoon ook die wil van die Here doen, is net so dood.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 2