Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:22-27 Die Boodskap (DB)

22. Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul.

23. Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is.

24. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap.

25. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.

26. Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet.

27. Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1