Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 2:8-15 Die Boodskap (DB)

8. U het alles vir hom gegee om oor te regeer.”As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering. Soos dit op die oomblik lyk, regeer die mens nog nie oor alles nie.

9. Daar is egter een uitsondering en dit is Jesus. Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak.

10. Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is. Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee. God het alles gemaak en alles wat bestaan, bestaan net vir Hom. Hy wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Daarom is daar niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red.

11. Dit is Jesus wat sorg dat mense na God toe mag gaan, en die mense wat deur Jesus vir God aanvaarbaar gemaak word, behoort aan dieselfde gesin. Daarom is Jesus nie skaam om hulle sy broers en susters te noem en hulle so te behandel nie.

12. Hy sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.”

13. Dit het Hy ook nog oor die familie gesê: “Ook Ek vertrou God altyd,” en: “Kyk, hier is Ek en al die kinders wat God My gegee het.”

14. Hierdie kinders in die familie van God is almal mense en daarom is dit logies dat Jesus ook mens geword het. Op dié manier kon Hy ook doodgaan om so die duiwel op sy plek te sit. Dit is mos juis die duiwel wat mense doodmaak.

15. So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 2