Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 2:2-10 Die Boodskap (DB)

2. Die boodskap wat voorheen deur hemelse wesens aan die mense verkondig is, was natuurlik nie sommer stories nie. Mense het daarna geluister en wie hulle nie daaraan gesteur het nie, is gestraf soos dit hoort.

3. As dit so was, watter kans het ons dan om los te kom as ons die wonderlike verlossing ignoreer wat Jesus bring? Die Here het self begin om mense te vertel hoe hulle weer by God kan uitkom. Mense wat Hom hierdie dinge hoor sê het, het dit weer vir ons kom vertel. Daarom weet ons dit is waar.

4. God self het ook beklemtoon dat dit waar is deur wonderlike dinge en allerhande tekens daarmee saam te laat gebeur. Hy het ook deur die Heilige Gees aan die gelowiges baie spesiale geestelike geskenke gegee soos Hy gevoel het Hy wil doen.

5. Jesus wat ons red, gee vir ons ’n nuwe bestaan in ’n nuwe wêreld. Dit is waaroor ons praat. God het egter nie die hemelse wesens baas oor die nuwe wêreld gemaak nie.

6. Iewers in die Skrif vra iemand vir God:“Wat is daar in ’n mens dat U hoegenaamd nog aandag gee aan hom? Is ’n mens die moeite werd dat U so vir hom sorg?

7. En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het.

8. U het alles vir hom gegee om oor te regeer.”As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering. Soos dit op die oomblik lyk, regeer die mens nog nie oor alles nie.

9. Daar is egter een uitsondering en dit is Jesus. Ons sien dat Hy vir ’n kort rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gehad het. Hy het selfs gely en is doodgemaak.

10. Maar nou is dit anders. Juis omdat Hy so gely het, het God Hom ’n belangriker posisie as die hemelwesens gegee. In die oë van almal is Hy nou so belangrik soos ’n koning vir sy onderdane is. Dit was egter goed dat God Jesus vir ’n kort rukkie minder belangrik as die hemelse wesens gemaak het. So kon Hy as mens sy lewe in ons plek gee. God het alles gemaak en alles wat bestaan, bestaan net vir Hom. Hy wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Daarom is daar niks mee verkeerd dat Hy Jesus laat ly het sodat daar geen twyfel kan bestaan dat Jesus absoluut volmaak is nie. Jesus is immers die Een wat mense moet red.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 2