Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 10:4-16 Die Boodskap (DB)

4. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie.

5. Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het:“Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het.

6. Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie.

7. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’”

8. Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.)

9. Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring.

10. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

11. Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie.

12. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit.

13. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi.

14. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het.

15. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees:

16. “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.”

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 10