Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 10:24-35 Die Boodskap (DB)

24. Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees.

25. Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie.

26. As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie.

27. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer.

28. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het.

29. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee.

30. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.”

31. Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê.

32. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie.

33. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is.

34. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie.

35. Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 10