Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 10:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit.

13. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi.

14. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het.

15. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees:

16. “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.”

17. En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.”

18. As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie.

19. My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het.

20. Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 10