Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:4-16 Die Boodskap (DB)

4. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie.

5. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat.

6. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek.

7. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word.

8. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het.

9. Daar het ook ’n towenaar in die stad gebly met die naam Simon. ’n Lang tyd al het hy die inwoners in vervoering gehad met sy towery. Simon het vir hulle vertel dat hy ’n baie magtige man is wat oor besondere kragte beskik.

10. Oud en jonk het kort voor lank geglo hy is ’n god. Oral waar hulle hom op straat sien loop het, het hulle vir mekaar gesê: “Kyk, daar is daardie groot kragman van God.”

11. Almal het Simon op die hande gedra.

12. Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het.

13. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het.

14. Die apostels in Jerusalem het intussen gehoor dat God besig was om mense oral in Samaria met sy goedheid aan te raak. Hulle het vir Petrus en Johannes soontoe gestuur.

15. Hulle twee moes gaan bid dat hierdie mense ook die krag van die

16. Heilige Gees in hulle lewe ontvang, want op daardie tydstip was hulle nog nie met sy krag vervul nie. Hulle was nog net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8