Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:34-41 Die Boodskap (DB)

34. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê:

35. Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang.

36. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie.

37. Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat.

38. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie.

39. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.”Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg.

40. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat.

41. Die apostels was baie bly toe hulle by die Joodse Raad uitstap. Hulle was dankbaar dat hulle hierdie vernedering en slae kon verduur omdat hulle in Jesus glo.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5