hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5 Die Boodskap (DB)

Ananias en Saffira se

1. Ananias en Saffira, ’n egpaar in die gemeente, het ook ’n stuk grond verkoop. Ananias het ’n deel van die wins in sy sak gesteek en die res vir die apostels gevat. Hy het gemaak asof hy al die geld aan hulle gegee het.

2. Sy vrou, Saffira, het ook geweet van sy skelmstreek.

3. Petrus het egter dwarsdeur hom gesien. “Hoekom het jy toegelaat dat Satan ’n houvas op jou kry?” het hy vir Ananias gevra. “Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur ’n deel van die geld vir jouself te hou terwyl jy gemaak het asof jy alles aan ons kom gee het.

4. Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.”

5. Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak.

6. ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God.

7. Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het.

8. Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.”

9. Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.”

10. Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul.

11. Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom.

Die apostels maak baie mense gesond

12. Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom.

13. Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers.

14. Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het.

15. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.

16. Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees.

’n Engel kom help

17. Die Joodse Raad kon nie anders as om van die wonderwerke van die apostels kennis te neem nie. Dit het hulle baie jaloers gemaak. Daarom het die hoëpriester en die ander godsdienstige leiers op ’n dag besluit om hulle te laat vang.

18. Kort daarna is die apostels gevang en in die tronk gestop.

19. Maar ’n engel van die Here het dieselfde nag nog die tronk se deure kom oopsluit. Die engel sê toe vir hulle: “Moenie mismoedig word nie.

20. Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.”

21. Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep.

22. Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê:

23. “Toe ons daar by die tronk kom, was die deure gesluit en al die wagte op hulle pos. Maar binnekant kon ons geen spoor van daardie klomp mans vind nie. Hulle is skoonveld.”Almal was dronkgeslaan daaroor.

24. Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud.

25. Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.”

26. Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat.

Meer gehoorsaam aan God as aan mense

27. Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê:

28. “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.”

29. Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie.

30. “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het?

31. Maar God het Jesus nou met groot eer beklee. Hy het aan Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. God het Hom ook aangestel as die Heerser en Verlosser van die hele Israel. Almal wat in Jesus glo, se sondes word deur Hom vergewe. Hy gee vir hulle elkeen ’n splinternuwe lewe.

32. “Ons vertel julle nou die reine waarheid. Die Heilige Gees, wat God aan elkeen gee wat na Hom luister, weet dit.”

Lyding en bevryding

33. Toe die Joodse Raad dit hoor, was hulle woedend. Hulle wou die apostels net daar doodmaak.

34. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê:

35. Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang.

36. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie.

37. Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat.

38. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie.

39. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.”Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg.

40. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat.

41. Die apostels was baie bly toe hulle by die Joodse Raad uitstap. Hulle was dankbaar dat hulle hierdie vernedering en slae kon verduur omdat hulle in Jesus glo.

42. Hulle het hulle nie aan die Joodse Raad se waarskuwings gesteur nie, maar aangehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis die nuus bekend te maak dat Jesus die Christus is.