Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:28-40 Die Boodskap (DB)

28. “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.”

29. Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie.

30. “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het?

31. Maar God het Jesus nou met groot eer beklee. Hy het aan Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. God het Hom ook aangestel as die Heerser en Verlosser van die hele Israel. Almal wat in Jesus glo, se sondes word deur Hom vergewe. Hy gee vir hulle elkeen ’n splinternuwe lewe.

32. “Ons vertel julle nou die reine waarheid. Die Heilige Gees, wat God aan elkeen gee wat na Hom luister, weet dit.”

33. Toe die Joodse Raad dit hoor, was hulle woedend. Hulle wou die apostels net daar doodmaak.

34. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê:

35. Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang.

36. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie.

37. Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat.

38. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie.

39. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.”Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg.

40. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5