hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24 Die Boodskap (DB)

Die Joodse leiers kla Paulus aan

1. Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met ’n paar Joodse godsdienstige leiers en ’n advokaat met die naam Tertullus in Sesarea aangekom.

2. Hulle het Paulus by die goewerneur kom aankla. Paulus is voor die regbank van Feliks gebring. Tertullus het dadelik begin om die Joodse owerhede se saak teen Paulus te stel: “Hooggeagte Feliks,” het hy gesê,

3. “dis net aan u goeie regering te danke dat ons nou soveel vrede beleef. U hervormings het groot voorspoed vir ons volk gebring. Oral praat ons mense daaroor met groot dankbaarheid teenoor u.

4. Ek wil egter nie u tyd mors nie. Daarom versoek ek u om op u kenmerkend vriendelike manier ’n paar oomblikke na my te luister.

5. “Hierdie man wat voor u staan, is ’n baie groot gevaar vir ons almal. Hy versteur die rus en vrede onder die Jode oor die hele wêreld. Hy is een van die voorbokke in daardie sekte van die Nasareners.

6. Nou die dag het hy selfs probeer om ons tempel te verontreinig. Maar gelukkig het ons hom net betyds gevang.

8. As u hom nou self ondervra, sal u agterkom dat al hierdie dinge waarvan ons hom aankla, die reine waarheid is.”

9. “Ja, ja, dit is waar,” het al die ander Joodse afgevaardigdes opgewonde uitgeroep.

Paulus verdedig homself

10. Die goewerneur het met sy hand vir Paulus beduie dat dit nou sy beurt was om te praat. Paulus het toe gesê: “Ek weet dat u reeds baie jare oor ons regeer. Daarom is ek baie bly dat ek my saak voor u kan stel.

11. Ek het skaars twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom. Ek wou God daar gaan aanbid.

12. Dis al. Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek met een enkele persoon in die tempel gestry of dat ek ’n opstand onder die mense veroorsaak het nie. Ek het ook nie in een van die sinagoges of iewers op straat amok gaan maak nie.

13. Ek sê weer: nie een van die beskuldigings wat hierdie mense teen my ingebring het, kan bewys word nie.

14. “My aanklaers is wel reg op een punt: dat ek ’n lid is van daardie beweging van Christus wat hulle ’n sekte noem. Maar ek moet dadelik bysê dat ek nog steeds dieselfde God dien as wat my voorouers gedien het. Ek glo alles wat in ons Heilige Skrif staan. “En ek glo ook, net soos my voorouers,

15. dat God eendag al die dooies sal laat opstaan, goed en sleg. “Daarom luister ek na wat God sê.

16. Ek probeer ook nie om ander mense aanstoot te gee deur wat ek sê en doen nie.

17. “Ek was ’n hele paar jaar in die buiteland, ver van my mense af. In hierdie tyd het ek ’n groot geldelike bydrae vir hulle ingesamel.

18. Toe ek daarmee klaar was, het ek teruggekom om dit aan hulle te oorhandig. Ek wou ook in die tempel ’n offer aan God bring. Daarom het ek my eers weer in die tempel laat reinig sodat ek na my verblyf in die buiteland weer rein genoeg kon wees om ’n offer te bring. Ek het dit alles sonder ’n groot bohaai gedoen. Toe ek klaar was daarmee het ’n paar Jode uit Asië my in die tempel raakgeloop. Dit is hulle wat toe ’n groot lawaai opgeskop het. Eintlik moes hulle ook hier gewees het om my voor u aan te kla.

19. Daarom moet u maar hierdie mense wat my vandag aankla, vra watter misdaad ek dan gepleeg het.

20. Hulle moet verduidelik waarom ek hier voor u teregstaan. Want ek self het nie ’n idee wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat hulle teen my het, is daardie een sinnetjie wat ek uitgeskree het toe ek nou die dag voor hulle Raad verskyn het.

21. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’”

Paulus gaan tronk toe

22. Nadat Feliks na Paulus se verdediging geluister het, het hy besluit om die saak uit te stel. Hy het meer van die Christendom af geweet as wat hy wou voorgee. Maar hy het vir tyd gespeel omdat hy nie die Jode se goedgesindheid wou verloor nie. Daarom het hy vir hulle gesê: “Wanneer Lisias, die Romeinse bevelvoerder in Jerusalem, hier opdaag en ek ook na sy kant van die saak geluister het, sal ek ’n uitspraak in hierdie saak lewer.”

23. Daarna het Feliks een van sy kapteins beveel om Paulus weer te laat opsluit. Hy het Paulus nou egter heelwat meer vryhede toegelaat en sy vriende kon hom besoek.

Die lig van die evangelie

24. ’n Paar dae later het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal. Hulle wou hoor wat hy alles oor sy geloof in Jesus Christus te sê gehad het.

25. Paulus het die geleentheid gebruik om met hulle te praat oor die volgende belangrike sake: hoe om jou saak met God reg te maak; hoe om sondige begeertes onder beheer te kry, en wat alles gaan gebeur op die laaste dag wanneer God terugkom om te oordeel. Sy woorde het Feliks en Drusilla baie benoud gemaak. Daarom het Feliks hom gou na sy sel toe teruggestuur met die woorde: “Dit is vir eers genoeg. Later, as ek tyd het, sal ek jou weer laat haal. Dan kan ons verder gesels.”

26. Feliks het in die stilligheid gehoop dat Paulus hom omkoopgeld sou aanbied om hom vry te laat. Daarom het hy Paulus daarna gereeld laat haal om met hom te kom praat. So het twee jaar verbygegaan.

27. Feliks is toe deur Porcius Festus as die nuwe Romeinse goewerneur opgevolg. As ’n laaste guns aan die Jode het Feliks egter vir Paulus in gevangenskap in Sesarea agtergelaat.