Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:17-28 Die Boodskap (DB)

17. ‘Aan die einde van die tyd,’ sê God, ‘sal Ek my Gees gee aan almal wat in My glo. Dan sal Ek my wil aan julle seuns en julle dogters bekendmaak. Hulle sal profete wees wat my wil bekendmaak.

18. ‘Met julle jongmense sal Ek in visioene praat. En met die ouer mense onder julle sal Ek in drome praat. Op almal wat My dien, mans en vroue, sal Ek aan die einde van die tyd my Gees uitstort.

19. ‘Hulle sal my wil aan ander mense bekendmaak. Ek sal ook groot tekens in die lug en op die aarde laat gebeur.

20. Bloed en vuur en donker rook sal hemel en aarde vul. Ek sal die son pikswart maak, en die maan so rooi soos bloed.‘Al hierdie dinge sal gebeur kort voordat die groot dag van die Here aanbreek; daardie dag waarop Hy na die wêreld toe terugkom.

21. Almal wat die Here se Naam aanroep en Hom smeek om hulle sondes weg te vat, sal gered word.’”

22. “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek nou vir julle wil sê. Jesus van Nasaret is die Man wat deur God aangestel is om groot wonderwerke en tekens onder julle te doen.

23. Hy is ’n rukkie gelede hier in Jerusalem deur ’n spul goddelose mense gevang, presies net soos God dit beplan het. Daarna het julle almal Hom laat doodmaak.

24. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. Hy het al die bande van die dood van Jesus afgegooi en Hom lewendig daar laat uitstap.

25. Hoor wat Dawid oor Jesus geskryf het:

26. ‘Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van vreugde. Ek vertel vir almal hoe goed die Here is.

27. Nie eens die dood kan my meer bangmaak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat vergaan nie.

28. U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei. Ek jubel daaroor.’

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2