Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:24-42 Die Boodskap (DB)

24. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het.

25. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid.

26. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê.

27. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag.

28. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie.

29. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?”

30. Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my.

31. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen.

32. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’

33. “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.”

34. “Weet julle, ek sien nou dat God niemand voortrek nie,” het Petrus geantwoord. “Hy het regtig nie witbroodjies nie!

35. Hy aanvaar almal wat respek vir Hom het en wat doen wat reg is, maak nie saak uit watter volk hulle kom nie.

36. “Ek het goeie nuus vir julle: God het onlangs ’n baie belangrike boodskap na Israel toe gestuur. Dit is ook vir julle bedoel. Die inhoud van hierdie goeie nuus is dat God met ons almal vrede kom maak het. Jesus Christus het hierdie boodskap persoonlik na ons toe gebring. Hy is die Here oor almal.“Dalk het julle ook gehoor wat ’n ruk gelede daar in Judea met Hom gebeur het.

37. Dit het eintlik al in Galilea begin toe Johannes die Doper daar gepreek het dat mense hulle lewens moet verander en hulle moet laat doop. Daarna het Jesus van Nasaret op die toneel verskyn.

38. God het die Heilige Gees oor Hom uitgestort. Jesus het toe begin om mense te help, bose magte uit hulle weg te jaag, en al wat siek mens is, te genees. Hy het dit alles gedoen met behulp van God se groot krag.

39. “Ek het al hierdie dinge met my eie oë sien gebeur: van Galilea af tot in Jerusalem. Toe Jesus in Jerusalem aankom, het die mense Hom doodgemaak. Hulle het Hom aan ’n houtkruis opgehang.

40. Op die derde dag na sy dood het God Hom weer lewendig gemaak.

41. Hy het ook toegelaat dat Jesus vir ’n klompie mense kom wys dat Hy lewe, maar nie vir almal nie. God het vooraf sekere mense uitgesoek aan wie Jesus verskyn het. Ek en die ander apostels is daardie bevoorregte groepie. Ons paar het die voorreg gehad om saam met Jesus te eet en te drink nadat Hy weer lewendig geword het.

42. “Jesus het ons beveel om hierdie nuus oral te gaan oorvertel. Ons moet vir almal gaan sê dat Hy deur God self aangestel is as Regter oor almal op die aarde, oor almal wat lewe en wat reeds dood is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10