Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is.

19. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie.

20. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.

21. Sê my, julle wat so graag die wet wil gehoorsaam, het julle al ’n slag mooi gekyk na wat daar regtig in die Bybel geskryf staan?

22. Kom ons kyk weer na Abraham. Hy het twee seuns gehad.

23. Die een het hy by ’n slavin, Hagar, gehad. Sy naam was Ismael. En die ander seun by sy eie vrou, Sara. Sy naam was Isak. Die kind wat hy by die slavin gehad het, is gebore toe Abraham probeer het om sélf God se beloftes waar te laat word. Maar die ander kind is gebore presies net soos God hom belowe het dit sou gebeur.

24. Hierdie twee geboortes is ’n goeie voorbeeld van dit waaroor ons praat. Hulle staan eintlik vir twee verskillende ooreenkomste.

25. Die een ooreenkoms is daar by die berg Sinai in Arabië gesluit. Daar het die volk die wet ontvang. Ongelukkig het daardie ooreenkoms net ’n klomp slawe opgelewer, presies soos dit ook met Hagar, Abraham se slavin, gebeur het. Wel, dieselfde geld vir almal wat die wet probeer hou.

26. Kyk net na wat daar in Jerusalem aangaan, dan sal julle agterkom dat hulle almal eintlik Hagar se nageslag is. Hulle is slawe van die wet met al sy reëls en regulasies. Gelukkig is daar ’n ander Jerusalem wat nie in slawerny verval het nie. Hierdie Jerusalem, wat die resultaat is van God se tweede ooreenkoms met ons, is daar in die hemel. Dit is ons nuwe adres. Hierdie Jerusalem is soos ’n ma vir ons almal wat glo.

27. Jesaja skryf die volgende oor haar:“Vrou, jy wat nie in staat was om kinders te hê nie, kan nou feesvier. Skree sommer van vreugde, jy wat nog nooit geboortepyne gehad het nie. Jy was baie eensaam. Jy het nie die vreugde van kinders geken nie. Maar nou sal jy meer kinders hê as al die ander vroue wat getroud is.”

28. My broers en susters, uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat ons, net soos Abraham se seun Isak, ook deel is van die tweede ooreenkoms.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 4