hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4 Die Boodskap (DB)

Nie meer weeskinders nie

1. Kom ek verduidelik met die volgende voorbeeld wat dit beteken dat julle Abraham se erfgename is. Julle weet mos dat erfgename wat minderjarig is, nie kan aanspraak maak op hulle erfporsie nie. Hulle is nog te jonk om te erf. Eintlik is minderjariges niks beter daaraan toe as die bediendes wat in hulle huis werk nie. Al sê die testament dat hulle die wettige erfgename is, staan hulle nog onder die toesig van hulle voogde.

2. Hulle erfporsie word beheer deur mense wat amptelik oor hulle aangestel is tot op die dag dat die testament sê hulle kan erf.

3. Weet julle, presies dieselfde het met ons gebeur. Voorheen was ons ook minderjarig. Dit was toe ons nog slawe was van die vyandige magte van hierdie wêreld.

4. Maar toe die regte tyd aanbreek, die tyd waarop God self besluit het, het Hy sy Seun na ons toe laat kom. Christus se aardse ma het toe aan Hom geboorte geskenk. En, soos alle Joodse seuns, het Hy onder die reëls van die wet grootgeword. Dit is hoekom Hy almal wat onder die swaar gewig van die wet gebuk gaan, kan vrymaak.

5. Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word. Ons is nie langer weeskinders nie.

6. Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!”

7. Julle is nie meer slawe van die sonde en die wet nie. Nee, julle is nou volwaardige kinders van God. En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n.

Leef soos God dit wil hê

8. Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode.

9. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word?

10. Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring?

11. Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het.

12. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het.

13. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was.

14. Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie.

15. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het.

16. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel.

17. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle!

18. Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is.

19. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie.

20. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.

Sara en Hagar

21. Sê my, julle wat so graag die wet wil gehoorsaam, het julle al ’n slag mooi gekyk na wat daar regtig in die Bybel geskryf staan?

22. Kom ons kyk weer na Abraham. Hy het twee seuns gehad.

23. Die een het hy by ’n slavin, Hagar, gehad. Sy naam was Ismael. En die ander seun by sy eie vrou, Sara. Sy naam was Isak. Die kind wat hy by die slavin gehad het, is gebore toe Abraham probeer het om sélf God se beloftes waar te laat word. Maar die ander kind is gebore presies net soos God hom belowe het dit sou gebeur.

24. Hierdie twee geboortes is ’n goeie voorbeeld van dit waaroor ons praat. Hulle staan eintlik vir twee verskillende ooreenkomste.

25. Die een ooreenkoms is daar by die berg Sinai in Arabië gesluit. Daar het die volk die wet ontvang. Ongelukkig het daardie ooreenkoms net ’n klomp slawe opgelewer, presies soos dit ook met Hagar, Abraham se slavin, gebeur het. Wel, dieselfde geld vir almal wat die wet probeer hou.

26. Kyk net na wat daar in Jerusalem aangaan, dan sal julle agterkom dat hulle almal eintlik Hagar se nageslag is. Hulle is slawe van die wet met al sy reëls en regulasies. Gelukkig is daar ’n ander Jerusalem wat nie in slawerny verval het nie. Hierdie Jerusalem, wat die resultaat is van God se tweede ooreenkoms met ons, is daar in die hemel. Dit is ons nuwe adres. Hierdie Jerusalem is soos ’n ma vir ons almal wat glo.

27. Jesaja skryf die volgende oor haar:“Vrou, jy wat nie in staat was om kinders te hê nie, kan nou feesvier. Skree sommer van vreugde, jy wat nog nooit geboortepyne gehad het nie. Jy was baie eensaam. Jy het nie die vreugde van kinders geken nie. Maar nou sal jy meer kinders hê as al die ander vroue wat getroud is.”

28. My broers en susters, uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat ons, net soos Abraham se seun Isak, ook deel is van die tweede ooreenkoms.

29. Onthou julle nog hoe Isak, wat deur die Gees se werk gebore is, deur Ismael agtervolg is? Tot vandag toe gaan dit nog so.

30. Daarom sê die Bybel: “Jaag daardie slavin en haar seun weg. Daardie seun van die slavin mag onder geen omstandighede saam met die regte seun erf nie.”

31. Hierdie teks sê vir ons dat ons nie die kinders van ’n slavin is nie. Nee, ons wat glo, is Abraham se kinders.