Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 2:15-27 Die Boodskap (DB)

15. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is.

16. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie.

17. Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien.

18. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.

19. Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê.

20. Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie.

21. Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.

22. Boonop ken julle Timoteus en weet wat daar in hom steek. Hy het die toets mos deeglik deurstaan. Soos ’n seun skouer aan skouer saam met sy pa werk, so het hy hom afgesloof om saam met my die mense van Jesus Christus te vertel. Ek moet erken dat ek ook baie bly sal wees om te hoor hoe dit met julle gaan.

23. Nou ja, sodra die dinge hier afgehandel is en ek weet wat die toekoms vir my inhou, beplan ek om hom na julle toe te stuur.

24. En ek hoop en bid dat die Here my sal toelaat om sommer kort op sy hakke na julle toe te kom.

25. Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug.

26. Hy verlang baie na julle.

27. Dit het hom ook gepla dat julle van sy siekte gehoor het. Glo my, hy was baie siek. Hy het by die dood omgedraai. Maar God het nie van hom vergeet nie en hom gesond gemaak. God was nie net vir hom goed nie, maar ook vir my. As hy gesterf het, sou die hartseer vir my byna te veel gewees het.

Lees volledige hoofstuk Filippense 2