Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1:22-30 Die Boodskap (DB)

22. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie.

23. Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is. Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit?

24. Maar aan die ander kant is dit vir julle beter en selfs nodig dat ek eers nog ’n rukkie bly lewe.

25. Inderwaarheid is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie. Ek sal nog ’n ruk lank vir julle gespaar bly. Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is.

26. Ek weet mos, as ek binnekort weer daar by julle aangestap kom, sal julle net nie uitgepraat kan raak oor wat Christus Jesus alles vir my gedoen het nie.

27. Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.

28. Moenie dat die ander wat van julle verskil, julle senuagtig of bang maak nie. Die feit dat julle nie sommer weghardloop nie, sal vir hulle wys dat hulle op die verkeerde pad en julle op die regte pad is. Julle pad loop na God toe. Hy is die Een wat julle red omdat julle in Christus glo. Ons het dit nie verdien nie, maar God het dit ter wille van Christus vir ons gedoen.

29. Daarom is dit nie te veel gevra om ter wille van Christus ook swaar te kry nie. Kyk maar na my. Ek is nie al een wat ter wille van Jesus swaarkry nie.

30. Ek en julle stap sy aan sy as Christene, en daarom lê daar soms ook vir julle ’n moeilike, opdraande pad voor.

Lees volledige hoofstuk Filippense 1