Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 2:7-19 Die Boodskap (DB)

7. Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan.

8. Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Koning Dawid was sy voorvader. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak.

9. Dit is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie.

10. Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees. Dit is iets wat niemand van ons kan wegvat nie. Dit sal vir ewig duur.

11. Ek praat die waarheid: as ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef.

12. As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê.

13. As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie ... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie.

14. Herinner die gelowiges gedurig aan hierdie dinge. Waarsku hulle met God as getuie dat die stryery oor wat sekere woorde kwansuis sou beteken ’n einde moet kry. Dit bring ’n mens nêrens nie en bou nie dié wat daarna luister op nie, maar breek hulle eerder af.

15. Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie.

16. Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal.

17. Die dinge wat hulle vertel, sal mense geestelik baie seermaak, soos iemand wat kanker kry en al hoe sieker word.

18. Himeneus en Filetus is so, want hulle het ook die spoor heeltemal byster geraak en ken nie meer die waarheid nie. Hulle kom met die storie dat mense al klaar uit die dood opgestaan het. So breek hulle party mense se geloof tot in die grond af.

19. Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.”

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 2