Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 1:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.

11. God het my aangestel en gestuur om hierdie goeie nuus vir almal te gaan vertel en aan hulle te verduidelik wat dit presies vir hulle beteken.

12. Daarom sit ek nou ook hier in die tronk, maar moenie dink ek is skaam daaroor nie. Nee, ek weet mos op wie ek my vertroue stel. Ek twyfel nie een oomblik daaraan dat God self na alles sal kyk wat Hy vir my gegee het om te doen nie. Hy sal daarvoor sorg tot Christus Jesus weer kom.

13. Jy onthou seker nog hoe ons oor al die dinge van die Here gepraat het. As jy oor iets wonder, dink terug daaraan en laat jou lei deur wat ek gesê het. Vertrou op die Here en wees lojaal teenoor Hom en almal wat Syne is.

14. Kyk mooi na al hierdie pragtige dinge wat God vir jou gegee het. Die Heilige Gees wat in elkeen van ons is, sal jou help om dit goed op te pas.

15. Jy het seker gehoor dat al die Christene wat uit Asië kom, my hier in die steek gelaat het, onder andere ook Figelus en Hermogenes.

16. Onesiforus was egter nie skaam dat ek hier in die tronk sit nie. Hy het gereeld vir my kom kuier. Mag God daarom ook vir hom en sy huisgesin baie liefde bewys en goed wees vir hulle.

17. Om die waarheid te sê, toe hy hier in Rome aangekom het, het hy sonder ophou na my gesoek tot hy my gekry het.

18. Jy self weet ook mos hoe hy my in Efese gehelp het. Mag die Here vir hom baie goed wees wanneer Hy weer kom.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 1