Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 4:6-10 Die Boodskap (DB)

6. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het.

7. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel:

8. Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie.

9. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.

10. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 4