Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 13:1-7 Die Boodskap (DB)

1. My derde besoek aan julle is voor die deur. Luister daarom mooi na wat ek nou vir julle sê; dan sal alles goed verloop wanneer ek daar opdaag. Kyk, die Bybel sê twee of drie getuies is nodig om in ’n saak te getuig voordat ’n hof enige uitspraak daaroor lewer.

2. Wat wil ek hierdeur vir julle sê? Wel, onthou julle hoe ek tydens my tweede besoek die klomp sondaars daar tussen julle vasgevat het?

3. Nou sê ek weer vir julle hier kort voor my derde besoek dat ek net mooi niks daarvan hou dat party van julle aanhou sondig nie. Hou dadelik op daarmee, of dra die gevolge!

4. Party van julle soek mos die een of ander bewys dat Christus ook deur my praat. Wel, daar wag ’n groot verrassing op julle. Hy gaan hierdie keer wanneer ek by julle is, met groot krag onder julle werk, nie met swakheid nie. Natuurlik was Christus vroeër weerloos en swak toe Hy aan die kruis gehang en daar gesterf het. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Christus lewe nou uit die groot krag van God. Natuurlik is ek ook maar swak, al is ek ’n volgeling van Christus. Maar moenie dat dit julle mislei nie. Wanneer ek daar na julle toe kom, sal julle sien dat God se groot krag deur my werk wanneer Christus my daar tussen julle gebruik.

5. Nou wil ek ernstig met julle praat: gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle?

6. As julle dié toets nie slaag nie, wag daar groot probleme op julle. Terwyl julle julle eie geloof onder die vergrootglas plaas, hoop ek julle sal agterkom dat ek hierdie toets al lankal geslaag het.

7. Ek bid ernstig tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Want dis regtig nie so belangrik wat julle van my geloof dink nie. Julle kan maar sê ek is nie ’n Christen nie, solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 13